Kremetartbome in die Gamtoosvallei

Go Back

Wednesday, 25th February 2015

Click for the English version

Dr Archer was vir baie jare die plaaslike dokter. Hy het die Gamtoosvallei sien ontwikkel van `n onontwikkelde tot `n vooruitstrewende besproeiingsvallei wat tereg die groentemandjie van die Oos Kaap genoem word. Hy was `n liefhebber en kenner van die natuur en het wyd gereis, soos mens kon sien in die veskeidenheid inheemse plante in sy groot tuin. Sommige plante van sover as die Zambesievallei in Zimbabwe.

`n Storie wat hy aan my vertel het is dat hy een aand na `n praatjie deur Prof Christo Pienaar oor die kremetartboom (Adansonia digitata) oor die radio geluister het – voor die tyd van televisie. 

Hy vertel dat Prof Pienaar vertel het dat die kremetartboom natuurlik net tot by `n sekere suidelike breedtegraad natuurlik voorkom en sal groei. Daar was egter `n kremetartboom in die botaniese tuin in Durban, maar dis daar geplant.

Soos Dr Archer was, het hy die destydse SAUK geskakel en na `n gesukkel by die regte afdeling uitgekom het. Hy vertel toe vir hulle dat Prof Pienaar nie sy feite reg het nie, want hy woon in Patensie baie verder suid en dat hy kremetartbome in sy tuin het. Hulle se toe vir hom dat dit `n heruitsending was van `n vorige uitsending, maar hulle sou probeer om die inligting by Prof Pienaar te kry.

Laat een aand, so 9 maande later, lui sy telefoon en dis toe die professor wat skakel. Hy was blykbaar `n kortaf persoon wat nie nonsens geduld het nie en sy en Dr Archer se gesprek verloop toe min of meer as volg: 

“Jy se jy het kremetartbome in jou tuin.” (Dr Archer was `n perfekte “gentleman”) “Ja, ek het.”

 “Weet jy wat is `n kremetart?” !!!! “Ja ek weet, die Adansonia digitata”

“….en waar het jy plantjies gekry? “….nee ek het hulle nie as plantjies geplant nie, ek het hulle van saad gekweek.” 

“Nee,nee, nee, di twerk nie so nie. Kremetartsade moet deur diere gevreet word anders sal hulle nie opkom nie. Die sade moet eers deur die spysverteringskanaal van `n dier gaan. `n Olifant of `n bobbejaan of bok moet hulle eers eet anders sal hulle nie ontkiem nie!”

“Ja ek weet, ek het hulle geeet!!” Toe vind hulle mekaar!!!! En die professor kom toe agter hy het nie met `n bobbejaan te doen nie! 

Later is nog kremetartbome in Patensie geplant, maar hulle is heelwat jonger as Dr Archer s`n, maar al die kremetartbome aard baie goed in ons vallei.

© Gamtoos Tourism - 2024 | Links | List / Manage Your Business | Kremetartbome in die Gamtoosvallei

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting