Toerisme in die Gamtoos Vallei

Patensie is die laaste stop voor die oostelike ingang na die Baviaans Wildernis, ‘n Wêreld Erfenis Gebied.

Die Gamtoosvallei is bekend as die groentemandjie van die Oos-Kaap en vir sy vrugbare grond. Die hoofoes is sitrus. Aartappels en ander groentes word dwarsdeur die jaar op groot skaal geproduseer en versprei na die markte in die Oos Kaap asook die res van Suid Afrika.

Danksy die Kougadam wat in 1967 gebou is, word besproeiingswater aan die boere tot by Gamtoosmond voorsien, asook water aan Port Elizabeth.

Die Gamtoos Toerisme Vereniging is gestig om die belange van produkeienaars te bevorder as gevolg van die groeiende getalle toeriste wat die vallei besoek. Die Toerisme behartig die bemarking van die vallei en handhaaf standaarde om ‘n uitstaande produk aan toeriste beskikbaar te stel. Talle buite aktiwiteite in die pragtige natuur word aangebied soos voëlkyk, staproetes, 4x4 roetes, kano, trekker en sleepwa ritte, wildbesigtiging, visvang, swem, gholf, dagritte na die Baviaanskloof of om sommer net te ontspan of te stap in die natuur.

Navorsing het gewys dat 90% van die toeriste wat die Gamtoosvallei besoek Suid Afrikaners is en omtrent 10% van Europa af kom. Hierdie toerisme is redelik seisonaal. Toerisme dra R4.34m by tot die Bruto Binnelandse Produk van die Gamtoosvallei en R6.46 tot die totale ekonomiese aktiwiteit! Toerisme is dan ook ‘n groot werkskepper.

Die Gamtoosvallei is ‘n lewendige mengsel van landbou, die pragtige natuurskoon en kulturele invloede met ‘n hele wêreld om te ontdek en te verken.

Loerie bied jaarliks die Nartjiefees aan in September.

Hankey is die oudste dorp in die vallei en dit is ook waar die grootste sonwyser (36.4m in deursnit) in Afrika te vind is. Dit is ook die gebied wat die tuiste was vir Suid Afrika se eerste inwoners – die Khoi en Mfengu van eeue gelede. In 2002 is die oorskot van Sarah Baartman, ‘n Khoi-San vrou, tot ruste gelê is op ‘n koppie buite Hankey. Hier sal u ook ‘n toposkoop vind vanwaar die vloedvlakte van die Gamtoosriver voor u lê. Hankey spog ook met een van die beste en mooiste 9 putjie gholfbane in Suid Afrika.

Die Gamtoosvallei is strategies geleë. Dit is slegs 40 minute vanaf Jeffreysbaai, 50 minute van Port Elizabeth, 1½ uur van Plettenbergbaai en Addo. Dagritte kan na die Baviaanskloof onderneem word. Alhoewel Patensie klein is sal u aangenaam verras wees om te sien dat bykans alle behoeftes in die lyn van kos, drank, herstelwerk, medies, banke, motorbande, ens hier beskikbaar is. Dis ‘n ideale bestemming om die omgewing te verken.